Liewe Gebedsvennoot

Dit is so onwerklik dat ons reeds aan die einde van die eerste kwartaal van 2021 is! Ons vra verskoning dat jy nou eers nuus van ons ontvang.  Daar het so baie gebeur sedert ons vorige nuusbrief Desember 2020 en ons gaan probeer om sommer net in kort vir jou te vertel wat alles gebeur het.

Natalia 2020 Uitreik

Die Natalia 2020 uitreik met ’n kleiner span as gewoonlik was anders as enige vorige jaar, soos wat alles deesdae anders is.  Ons is baie bewus daarvan dat lewe na 2020 nie weer gaan wees soos lewe voor 2020 nie.  Ons span het slegs uit 16 mense bestaan wat ons twee sowel as ons kosouers ingesluit het en ons was betrokke by meer aktiwiteite omdat ons die geleentheid gekry het om die oord te dien deur spanlede wat in die winkel gehelp het en ook by die supertube.  Ons het ook vir die eerste keer die geleentheid gekry om met die tieners van die oord te werk deur die aanbieding van tieneraande.

Daar was ook op hierdie uitreik die meeste kinders by die Poppekas van enige vorige uitreik wat ons nog by Natalia gehad het en ons is dankbaar vir die geleentheid wat ons gehad het om die liefde en goeie Nuus van Jesus Christus met soveel kinders te kon deel.

Vir ons persoonlik is dit altyd ’n wonderlike voorreg om vir twee weke lank saam met ‘n span jongmense tyd in die Woord te kan spandeer tydens oggende stiltetyd en tyd in God se teenwoordigheid te spandeer wanneer ons in die aande “worship with the Word” het en dikwels net wag op die Here en sien hoe Hy opdaag en die spanlede aanraak met Sy liefde en Sy omgee.

Voltydse Span 

Ons is dankbaar dat die Here nog drie mense bygevoeg het by die Huis van Gebed se voltydse span, wat ons getal laat groei het tot 13. Ons vertrou Vader om nog meer mense by te voeg, want met elke persoon wat Hy bevoeg, groei ons nader daaraan om die Huis van Gebed ure te kan uitbrei.

IHOPU-GLOBAL

Ons is baie opgewonde oor wat die Here by die Internasionale Huis van Gebed Universiteit in Kansas City gedoen het tydens 2020.  As gevolg van COVID-19 wat hulle op ’n plek geplaas het waar hulle al hulle klasse aanlyn moet begin aanbied, het IHOPU-GLOBAL ontstaan wat daartoe gelei het dat hulle begin het met EDUCATIONAL PARTNERSHIP met plekke buite die grense van Kansas City en selfs die grense van die VSA.

Vader het deur die Ministry Training School wat ons in 2020 begin het, ons so geposisioneer dat ons van hierdie jaar af die eerste Educational Partner van IHOPU-Global buite die grense van die VSA is.

Wat is ’n Educational Partner van IHOPU-Global?

Ons kan basies sê dat Witbank Huis van Gebed ’n satelliet kampus is vir die Internationale Huis van Gebed Universiteit in Kansas City, waar studente voltyds die drie verskillende kursusse wat IHOPU aanbied kan doen.  Klasse word aanlyn gedoen en al die praktiese ure word by Witbank Huis van Gebed gedoen en student is deel van die Huis van Gebed gemeenskap en beleef kampus en universiteits lewe deur saam met ander studente te studeer.

Ons het tans twee 2de jaar studente, aangesien die studente wat verlede jaar die Ministry Training School by ons voltooi het vanjaar kon voortgaan met die tweede jaar.

Dan het ons ook twee eerste jaar studente wat nou begin het met die Forerunner Ministry school, wat ’n vierjaar graad kursus in bediening is.

Al die studente se klasse is aanlyn, maar hulle doen dit saam by die Huis van Gebed en dan het hulle 16 verpligte ure prakties wat hulle in die Huis van Gebed doen.

Elke kampus moet ook ’n coach hê wat verantwoordelik is om toesig te hou oor die studente se praktiese werk en om hulle te coach in dit en Linda is die coach en kontakpersoon met IHOPU-Global.

Ons is dankbaar dat Vader ons in 2018 na die universiteit in Kansas City gestuur het en toe reeds begin het met dit wat Hy geweet het in 2021 gaan begin en vir ons die geleentheid gegee het om so deel te kan wees van die uitbreiding van die gebedsbeweging waarmee Hy wêreldwyd besig is.

Joshua Jaar en Plumblines!

Ons het aan die begin van die jaar as span besluit om die Joshua Jaar eers aan die begin van Maart te begin, aangesien die Graad 12’s hulle uitslae so laat in die jaar gekry het.

Ons het dus op 2 Maart begin met 2 studente, maar het die afgelope week nog 1 student bygekry voordat ons op die Joshua Jaar Plumbline gekom het (die persoonlikheids restorasie kursus).  Ons is op die oomblik besig met die kursus vir die Joshua Jaar studente, saam met 3 ander persone wat saamgekom het om bedien te word. Ons het Maandag 22 Maart begin en gaan weer Sondag 28 Maart terug huis toe.

Ons het egter reeds ’n datum in Februarie vasgemaak vir die oorspronklike Plumbline vir die studente, maar aangesien ons toe nog nie studente gehad het nie, het ons daardie datum oopgestel vir enige persoon wat graag die kursus wil doen en het ons met die maksimum wat ons neem van 8 persone die week van 15-21 Februarie die kursus aangebied en het aan die einde van daardie week net weereens in absolute “awe” gestaan oor hoe ons Hemelse Vader mense se lewens aanraak, gesond maak en transformeer!! Ons dien ’n GROOT GOD EN LIEFDEVOLLE VADER VIR WIE NIKS ONMOONTLIK IS NIE!

GEBEDSKETTING

Vandag, 26 Maart is ook die 365ste dag van die Gebedsketting wat ons op 27 Maart begin het, met die begin van die aanvanklike 21 Dae Lockdown.  Ons het aanvanklik gevoel dat Vader wil hê ons moet die gebedsketting doen vir 21 dae, maar twee weke nadat ons begin het, het ons geweet dat ons moet aanhou totdat Vader vir ons sê dat ons moet ophou.

Ons is dus nou ’n volle jaar reeds besig om daagliks ’n gebedsbrief uit te stuur aan ongeveer 100 mense wat deel is van die gebedsketting en daagliks saam met ons bid vir die gebedspunte wat Vader op ons en ander in die ketting se harte lê om voor te bid.

’n Gebedsbrief bestaan gemiddeld uit 4 bladsye, waarin ons begin met ’n woord van bemoediging of lering oor gebed en dan deel ons gebedspunte waarvoor ons bid.  Soms, soos die afgelope 20 dae bid ons net die Woord oor ons land en ander tye fokus ons op brandpunte.  Ons het ook ’n daaglikse punt op om te bid vir genesing en om in die Gees te bid.  Teen ’n gemiddeld van 4 bladsye per gebedsbrief (sommige is meer) het ons reeds die afgelope jaar ongeveer 1500 bladsye geskryf.  Ons kan die Here net prys vir Sy genade oor ons lewens wat ons in staat stel om die werk te kan doen wat ons doen.

MINISTRY TRAINING SCHOOL

Alhoewel ons die materiaal van die Internasionale Huis van Gebed Universiteit nie meer kan gebruik vir studente wat wil aangaan met hul aanlyn kursus nie, het ons toestemming van hulle verkry om steeds die materiaal te gebruik.

Ons bied dus steeds die Ministry Training School aan, maar as ’n deeltydse verrykings kursus vir enige persoon wat op enige plek in die samelewing in een of ander vorm van bediening is. Hetsy dit ’n ma is wat haar kinders bedien met Die Woord of iemand in die werkplek wat informeel sy kolegas bedien, of ‘n onderwyser by ’n skool, ens.

Ons bied hierdie kursus in die Huis van Gebed aan elke Donderdagaand, een vak op ’n slag. ’n Persoon kan al die vakke die een na die ander doen, of slegs die waarin hulle belangstel.

PRAYER ROOM

Die Huis van Gebed is steeds 38 uur per week oop en 16 van daardie ure is ons korporatiewe ure en ons is dankbaar om te kan sê dat ons ook die meeste van die tyd lewendige aanbidding het tydens daardie 16 ure.  Hou gerus die Witbank Huis van Gebed Facebook blad dop vir wanneer ons van daardie sessie live stream. Ons live stream ook ons weeklikse Sondag Fellowship en jy is welkom om daarop in te skakel.

HEALING ROOMS

Tydens ons besoek aan die VSA in 2018 was die laaste plek waarheen die Here ons gestuur het, die Healing Rooms in Santa Maria, California.  Daar het ons gevoel dat Vader wil hê dat ons as Huis van Gebed ook moet registreer as Healing Rooms by die Internasionale Healing Rooms bediening.

Ons het die begin van hierdie jaar saam met ons span daaroor gebid en ons weet dat dit nou die tyd is om daardie wiel aan die rol te sit.  Ons gaan dus op 10 April via Zoom opleiding ontvang en sodra die opleiding klaar is, kan ons amptelik registreer as Healing Rooms.

Wat vir ons bevestiging is hieroor, is mense wat ons sommer net uit die bloute skakel en vra dat ons vir hulle moet bid vir genesing.

Ons sal nog by die Here hoor presies hoe ons dit in die lig van COVID-19 moet bestuur, maar ons is opgewonde daaroor om ook daarmee te begin.

PESOONLIKE NUUS

Marais se ma het aan die einde van Januarie by Eden Park aftree oord in Witbank ingetrek en behalwe vir al die inperkings maatreëls wat baie frustrerend is, gaan dit baie goed met haar daar en het sy baie goed herstel van die heup breek verlede jaar. Dankie weer vir jou gebede.

Met Linda se ma gaan dit goed en sy bly steeds in die aftree oord in Kempton Park. Ons probeer ook om ten minste 2 keer per maand by haar uit te kom om te kuier en te winkel toe te neem en sommer net te help waar ons kan.

Ons was die Saterdag voor die vorige Plumbline in ’n ongeluk.  ’n Man het uit ’n parkeerplek agteruit gery in ons motor vas. Hy het redelik vinnig gery en groot skade aangerig. Ons motor is tans in vir herstelwerk. Ons is net dankbaar dat ons nie seergekry het nie.

Ons het ook op 12 Januarie Marais se verjaarsdag gevier en vier Linda se verjaarsdag een van die dae of 7 April. Ek (Linda) is baie opgewonde oor die feit dat my verjaarsdag op die eerste Woensdag van die maand val en ek die voorreg gaan hê om op my verjaarsdag ’n Bound4Life Silent Siege te kan doen asook die aand die intersessie set waar ons bid vir die beeïndiging van aborsie in ons land.

Verder het ons die voorreg om vanaf 7-21 Mei saam met ons 2 Moeders see toe te gaan vir ’n blaaskansie.

GEBEDSVERSOEKE

  1. Sê asb saam met ons dankie vir ons voltydse span wat jaar na jaar groei, asook vir die 7 studente wat ons weer vanjaar het. 4 IHOPU-Global studente en 3 Joshua Jaar studente.
  2. Bid asb vir ons hele span, voltydse gebedsendelinge asook studente om hierdie jaar te groei in ons verhouding met ons Vader, om nie weg te beweeg van ons eersteliefde nie en om alles te doen wat Hy vir ons droom vir die jaar.
  3. Bid asb saam vir die finansiële ondersteuning van elke gebedsendeling, dat Vader vir almal deure sal oopmaak na mense wat hulle as sendelinge wil ondersteun.
  4. Sê saam met ons dankie vir Vader se voorsiening vir die Huis van Gebed se finansies, asook Sy voorsiening vir ons persoonlik.  Bid ook saam met ons dat Vader elke maand alles sal voorsien wat nodig is.
  5. Bid saam met ons vir die Healing Room opleiding van 10 April en bid vir ons vir wysheid en dat ons presies sal weet hoe Vader wil hê ons dit moet bestuur.
  6. Sê asb saam met ons dankie vir die innerlike genesing en herstel wat tydens die Februarie Plumbline in mense se lewens plaasgevind het en ook op die oomblik plaasvind in die mense wat hierdie naweek bedien word se lewens.  Dit is so ’n groot voorreg om te sien hoe ons Vader mense gesond maak van jarelange pyn en seer en om te kan sien hoe mense se fisiese voorkoms verander soos hulle gesond word.
  7. Bid asb vir die herstel van ons motor, dat dit vinnig sal geskied en ook dat ons dit gereël kan kry dat die man wat in ons vasgery het verantwoordelikheid sal neem vir die bybetaling wat gedoen moet word.

BAIE DANKIE

Baie dankie vir jou tyd wat jy afgestaan het om hierdie lang nuusbrief te lees. Ons waardeer jou en ons wil baie graag vir jou ook bid.  Stuur asb jou gebedsversoeke na ons via Whatsapp op 0834471661.

BAIE DANKIE ook aan elkeen wat ons nie net in gebed ondersteun nie, maar ook finansieël.  Ons gebed vir jou is dat Vader vir jou en jou gesin ’n hondervoudige oes sal gee op die saad wat jy in ons lewens saai!

Ons sien uit daarna om van jou te hoor.

Liefdegroete

Marais en Linda